Tuis

Dag 5 Woensdag 16 Mei

2 Kommentaar

Vandag was veronderstel om ‘n rusdag te wees maar dit was alles behalwe die geval.  Eers is daar die winkels ingevaar om kleiner herstelwerk te laat doen aan voertuie en die vrouens het die geleentheid gebruik om die mans se geld in die winkels uit te gee. Na ontbyt by Alte Brucke op Swakopmund vertrek Russel, Braam, Hendrik en Helgaard op Quad Bikes die duine in.  Die middag het ‘n ander groep met hulle bakkies die duine tussen Duin 7 en Langstrand aangedurf. Tot groot vermaak van die groep moes Hendrik se Triton een van die Toyota’s oor ‘n duin sleep.  Die manne en vroue wat die trip meegemaak het, het regtig ‘n ongelooflike dag beleef.  Die res van die groep het sommer in die dorp en omgewing rondgewaal en ook die geleentheid gebruik om bietjie wasgoed te was en die ergste stof uit die motors te haal.

Dag 4 Dinsdag 15 Mei

3 Kommentaar

Hendrik en Sanette Arp, Wally en Yvonne Bester aam met die fotograwe, vertrek voor vyf van ons blyplek na Sossusvlei Lodge met die verwagting van ‘n asemrowende en lank oor gedroomde warmlugballon vlug oor duine en vlaktes.  Maar een telefoon oproep terwyl ons halfpad na ons bestemming is, verwyder al die drome.  Die wind is te sterk en die ballon vlieënier besluit om weens die veiligheidsrisiko die vlug af te stel. Na ‘n koppie koffie op die Lodge se rekening keer almal terug om liewer na die sonsopkoms te kyk met ons voete op die aarde. Weereens word ons onthaal op ‘n watertand ontbyt waaqrna ons die kort rit tot op Solitaire aandurf.

Die verwagting van warm appeltert gebak deur die beroemde Mouse van Solitaire loop op niks uit nie, want dit is uitverkoop.  Daar word egter vinnig planne gemaak en binne minute word nog appeltert uit die oond gehaal.  Ons vertrek op ‘n pad wat sy tol ys.  ‘n Vinnige stop in die Gaubrivier, foto’s neem en bene rek is dit nog baie kilometers op ‘n skrikwekkende pad.  Ons stop vir middagete by Vogelvederberg en almal geniet die pragtige rotsformasies en uitsig. By Walvisbaai besoek ons eers die Soutpanne en ry onsself vas in ‘n verskuiwende duin.  Na baie gesukkel kry ons omgedraai en vertrek ons na Alte Brücke op Swakopmund.  Toerlede geniet die lowergroen grasperke na die stof van die vorige twee dae en maak hul mooi vir die aandete by die bekende Brauhaus Restaurant in Swakopmund.

Dag 3 Maandag 14 Mei

1 Kommentaar

Na ‘n heerlike ontbyt wat deur Nicky Steyn en haar personeel van die Tshauchab Lodge vertrek ons om die natuurskoon van die plaas te gaan besigtig. Gewapen met ‘n kaart van die staproete en argumente hoe mens vandag nog ‘n papierkaart lees, verdwaal hulle tog.  Die hoogtepunt is toe Hendrik Arp ‘n yslike kobra in aksie op fotografies vasvang.  Daarna vertek ons na Sesriem en Sossusvlei.  Middagete word onder die skadubome van Sossusvlei se ingang geniet.  Daarna was almal gereed om die duine aan te pak.  Na die hoë hoogtes van die sandduine is ons teen die maksimum spoedgrens na lae laagtes, met die sakkende son as opposisie, na Sesriem Canyon. Teen sononder moes ons haas om by ons kamp by Namib Desert Lodge, deel van die Ngondwana Groep, te bereik. Die plek is gebou teen die baie besondere versteende duine en iets spesiaal om te sien.  Dit was maar moeilik om vir almal in die donker huisvesting gereed te kry.Die moeite word beloon met ‘n heerlike rit op ‘n oop wildbesigtigingsvoertuig en ‘n ete in die Lodge. Die rit terug na ons kampplek was ysig koud en na ‘n heerlike warm stort was almal vodde en reg vir die bed.

Dag 2 Sondag 13 Mei

2 Kommentaar

Vanaand is ons internet verbinding baie stadig.  Ons is immers in Tshauchab River Lodge – myle van die infrastruktuur waaraan ons gewoond is. Daar gaan nie vanaand vir jou fotos wees nie maar ons belowe, sodra ons weer  vinnige verbinding het gaan ons al die agterstallige foto’s plaas.

Vanoggend het begin met ‘n heerlike ontbyt by Lapa Lange waarna Johan Potlood vir ons ‘n uitstekende boodskap gebring het as rondreisende gemeente.  Dis Moedersdag en die vrouens is op ‘n tipiese Radio Namakwaland wyse vereer vir die reuse rol wat hulle speel.  Ons het geleentheid gehad om Jan Visagie geluk te wens met sy verjaardag waarna ons in di epad geval het.  Ons eet ontbyt by Lapa Lage en ontvang kospakkies vir middagete. Op  Mariëntal is brandstof gegooi en wiele gepomp waarna ons di e100km na Maltahöhe aangepak het. Langs die pad het ons die kospakkies van Lapa Lange verorber, soveel so dat etlike manne gesoek het na ‘n plek vir ‘n middagslapie.  Dit was egter vir niemand beskore nie en ons is met ‘n goed geskraapte C14 vinnig by ons bestemming, Tsauchab, geleë tussen die Tsaris- en Naukluft Berge. Hier kamp ons by ‘n fontein langs die Tsauchab Rivier op Johan en Nikkie Steyn se plaas. Aandete is weer in die eetsaal. Hierdie keer is die kampplek nie op gras nie, maar nogtans iets baie besonders. Dis by enorme wildevyebome. Die Tsauchab Rivier is die rivier wat ons later weer by Sesriem gaan kry en dis ook die rivier wat in die Sossusvlei eindig.

Groot was ons verrassing om die stort en toilet fasiliteite te beleef.  Dis nie elke dag dat jy ‘n toilet gebruik met ‘n 360 grade uitsig of stort binne in die onbeskutte stam van ‘n Wilde vyeboom nie. ‘n Paar kinders sal nie glo dat hulle ma’s vandag so in die oopte gestort het nie. Die kampplekke is ver van die Lodge en moes ons aangery word vir aandete aangesien ons reeds kamp opgeslaan het.  Die vervoer was egter te min en het toerlede soos vinke aan die bakkie gehang om by die kosbakke te kom.  Nadat daar lekker om die kampvuur gekuier is, het Nikkie vir ‘n aandete gesorg wat die toergangers swaar van hulle stoele laat opstaan het.

Moreoggend gaan daar eers 4 x 4 roete gery word voordat ons oppad gaan wees na Sossusvlei.

Dit gaan goed met almal en almal is gesond en dankie vir die Moedersdag boodskappies.  Ons het hulle oorgedra.

Dag 1 Saterdag 12 Mei

6 Kommentaar

Dis Saterdagmiddag, Jan Visagie en sy span is van vroeg af reeds besig om sy “Karper” te braai.  ‘n Karper is n Kruising tussen n Karakoel, Persie en DamaraSkaap wat in totaal ontbeen is. Vir elkeen van ons ‘n  totale nuwe eet ervaring. Die Toergangers kom een vir een aan dan breek die dam se wal toe die Namakwalanders soos n stroom by die hek ingery kom. Die weer ontmoeting lyk soos mense wat mekaar 50 jaar gelede gesien het en dit raas soos ‘n versamelvoëlnes wat ‘n boomslang ontdek het.

Die manne help die twee weduwees wat saam toer soos ‘n Stormerspan hulle tent opslaan. Daar word gekuier en kamp gemaak, gestort en mooigemaak, want daar wag ‘n reuse ete in die Lapa voor.

Na ‘n heerlike ete moet die nuweling op die toer eers ingelyf word en hulle keuse is om Jan Visagie solank geluk te wens met sy verjaardag wat môre eers is.

Geskenkpakke word uitgedeel en alkeen spog met n pragtige Radionamakwaland baadjie en n plakker om op sy motor te plak.

Newer Entries